Herfs 1997

News Letters Photo Album Favorites Annie's Art Gallery

Eureka, MO 63025

Oktober 1997

 Veestelike Herfs groetnis vanuit die VSA!

Liewe Familie & Vriende

Sjoe, maar die tyd vlieg. Ek probeer al vir die laaste paar weke om hierdie brief te skryf en het darem nou uiteindelik daarby uitgekom. Ek kan ook amper nie glo dat daar alweer 8 maande om is sedert die laaste nuusbrief in Februarie, nie - en die ergste is dat ons nie sò besig was nie. Ons is nou in 'n gemaklike roetiene en begin nou al hoe minder soos toeriste en meer soos burgers te voel.

Ons ou familietjie het verminder na drie in Februarie nadat Snuggles baie siek geword het en ons haar moes laat uitsit. Sy was 15 jaar deel van ons lewe en het 'n leemte in ons harte gelaat. Buttons het egter gou aangepas as die enigste hond en hy is nou omtrent Baas van die Plaas! Ons wou 'n klein hondjie kry om hom geselskap te hou maar hy het so negatief gereageer dat ons daarteen besluit het. Hy het nou my tweede vel geword en daar waar ek is daar is hy.

Tony het by 'n nuwe werk in Mei begin en hy werk baie hard. Mercantile Bank is omtrent so groot soos ABSA in terme van bate grootte en hy is verantwoordelik vir die divisie se tegniese beplanning. Hy vind die nuwe werk meer stimulerend as die ou werk by Boatmens.

Ons somerweer was baie lekker alhoewel 'n bietjie droog. Na verlede jaar se somer hitte en humiditeit was hierdie somer 'n plesier. Ons het net 'n paar weke aan die einde van Julie noustrop getrek met hoë temperature. Ons tuin begin darem na iets lyk en die paar struike floreer (solank ek dit nat hou) maar meonie dink dit is 'n skou tuin nie want nie ek of Tony is wafferse tuiniers nie! El Nino is hier ook groot nuus maar dit het hier 'n teenoorgestelde effek as die droogte in Suid Afrika. Daar word 'n kwaai winter vir ons in die midde weste en nog erger vir die suidelike state voorspel en 'n milde winter vir die verre noord. In die droeër state soos Arizona en Nevada is daar nou daaglikse oorstromings en Los Angeles wat normaalweg maar min reën kry, verspoel ook.

Ons probeer nog steeds om minstens een keer 'n maand toeriste te wees en nuwe plekke of besiwaardighede te besoek. Dit gaan nou maar sukkel sukkel so tussen die grassny en huiswerk en ons ry nou meer en meer met Jan Tuisbly se karretjie! Ons het 'n week in Maart verlof gehad en dagtoere rondom St Louis onderneem. Missouri is 'n baie mooi staat met rantjies en heuwels wat bedek is met natuurlike eike woude. Daar is 'n groot meer in die middel van Missouri genaamd "Lake of the Ozarks" en is 'n baie populêre vakansie plek. Die meer is in die 1930s gebou en vir diè tyd een van die wêreld se grootste mensgemaakte mere. Die meer is deur St Louis se elektriese maatskappy gebou en die kragopwekker lewer krag aan 'n groot area in Missouri. Daar is ongeveer 1150 myl oewer om die meer en daar is baie visse en voëls. Ons het 'n motorbootjie gehuur om op die meer te vaar en Buttons was natuurlik saam. Ons het egter vergeet hy is dood bang vir water en hy was hoogs ongelukkig in die boot. Op 'n stadium het hy teen my uitgeklim en het verstrengel geraak tussen my en die lewensreddingsbaatjie. Terug op moederaarde maak hy asof niks verkeerd was nie!

Ons het ons tweede "4th of July" gevier en kan amper nie glo dat die tyd so vinnig verbygaan nie. Die 4e Julie word hier in St Louis onder die "arch" gevier met stalletjies wat eetgoed en souveniers verkoop, orkeste en vermaakkunstenaars wat optree op 'n groot verhoog wat reg onder die arch opgerig is, 'n vliegtuig vertoning, 'n straat parade en natuurlik 'n wonderlike vuurwerk vertoning. Die fees vierings vind plaas op die 4e en die naweek daarna - hierdie jaar het die 4e op 'n Vrydag geval en dit was dus 'n lekker lang naweek. Een van ons vriende ('n oud Suid Afrikaner) het 'n woonstel reg by die arch en hy het sy familie gaan besoek en sy woonstel vir die naweek vir ons geleen. Dit was ook die koelste "Independence Day" ooit - 18°Celsius ipv middel 40s!

In September het ons op ons eerste offisiële vakansie gegaan. Ons het 'n tipiese Amerikaanse "road trip" beplan en dit baie geniet. Buttons was saam en hy is nou bekend as die viervoetige toeris, onder die bure. Ons toer was 2930 myl lank en ons het deur 10 state gereis: Missouri, Arkansas, Tennessee, Mississippi, Louisiana, Alabama, Florida, Georgia, Kentucky en Illinois.

Ons eerste stop was in Memphis, Tennessee om Elvis se huis, Graceland, te besoek. Ons kon nie glo dat na 20 jaar na sy afsterwe daar nog so baie besoekers en nuuskieriges sy huis besoek nie. Ons het vir 2 ure in 'n tou gewag om die huis te sien! Die huis is blykbaar net soos dit was toe hy daar gebly het en alles is nog in die sewentiger jare se styl kompleet met langhaar matte tot op die plafon.

Daarna het ons verder suid gereis na New Orleans, Louisiana en het in die beroemde of berugte? Franse Kwartier gebly. Die argitektuur in die kwartier is baie anders en baie interresant en die naglewe herhinner ons baie aan die ou Hillbrow - nie 'n plek om met kinders vakansie te hou nie. Dit was nogal baie besig toe ons daar was en ek kan myself indunk hoe dit moet wees in Februarie tydens die Mardi Gras feesvierings. Die stories wat ons hoor is maar bra wild en woelig. Ons het selfs "transvestites" gesien! New Orleans staan bekend as die "Big Easy" en die lewe is baie gemaklik en rustig en alles en almal word aanvaar maak nie saak hoe vreemd of skokkend nie. Die lokale mense spreek dit uit as "Naw'lins" en die stad self is modern met hoë lugskraapers. Buttons het 'n paar Naw'lins vlooie opgetel en dit het sy lewe 'n bietjie versuur - daar was egter genoeg katte om te jaag in die agterplaas, van die gastehuis waar ons gebly het, om daarvoor op te maak!

Vandaar het ons in 'n oostelike rigting al om die Meksikaanse golf gereis na Florida en 'n lekker tydjie spandeer op die strande. Ons eerste stop was op Panama City en daarna Clearwater in die Tampa area. Die strande is ongelooflik mooi - spierwit soos suiker en ons het net geswem en geeët. Ons het die bekende Busch Gardens besoek, 'n wildtuin tema park (eintlik 'n groot dieretuin) en massiewe groot "roller coasters". Ek het vrede gemaak met die goed na ons besoek aan die park hier naby ons want die ritte maak my net naar en dan geniet ek niks meer nie. Tony was vol brawade toe ons daar aankom en was van plan op elkeen te ry. Ons is uiteindelik daar weg en raai wie het toe koue voete gekry en nie op een geklim nie? Van Tampa het ons na Disney World in Orlando gegaan waar ons Epcot Center, Universal Studios en die Magic Kingdom besoek het. Minnie en Mickey Muis stuur groete en Buttons het langs 'n Mickey Muis geposeer vir 'n foto!

Van Orlando het dit ons 2 dae geneem om terug te reis na Missouri. Die twee weke het omgevlieg en nou voel dit asof ons glad nie weg was nie.

Op die oomblik is almal besig met voorbereidings vir die tradisionele vakansie dae. Eerste kom Halloween en selfs ek is nou in die versieringsgier verstrengel. Ek het oranje liggies met klein Frankenstein skedels om die voordeur gehang, 'n rangskikking van herfsblare en blomme teen die voordeur en 'n verligte pampoen gesig op die stoep. Oranje bakke voel lekkers staan gereed vir die hordes kinders wat die 31 ste kom "trick or treat". Die volgende vakansie dag is Thanksgiving en ons hoop maar ons word deur iemand uitgenooi vir kalkoen en kapok aartappels. Tony sal weer vir Kersfees die huis versier met liggies en hierdie jaar gaan al die bure bymekaar kom om van huis tot huis te stap om te besluit watter huis die mooiste versier is. Hierdie Kersfees gaan ek en Tony vir die eerste keer alleen wees en ons sal maar die beste daarvan maak.

Verlede naweek het die rodeo na Eureka gekom en ons het daarna gaan kyk. Die cowboys het op wilde perde en bulle gery, kalfies vasgetrek (ek het vir die kalfies geskreeu) en die meisies het met die perde om balies gejaag. Hulle het ook 'n spesiale item vir die kinders gehad waar al die kinders in die arena 'n kalfie met 'n strik moes jaag. Die een wat die strik kry het 'n prys gewen. Alles het goed gegaan tot die tweede cowboy deur die bul gegooi was en gegaffel was. Tydens die onderonsie het die bul sy agterbeen gebreek en dit was baie tragies om die majesteuse dier in soveel pyn te sien. Die organiseerders het almal gerusgestel dat hulle alles wat menslik moontlik was vir die bul sal doen en dat so iets baie selde gebeur.

Ons beplan om in Oktober op twee fietstoere te gaan om die herfskleure te besigtig. Hier is heelwat fiets paaie om van te kies. Die een is in die woud en die ander is al langs die Mississippi rivier. Op die oomblik is dit nog lekker warm en ons hoop dit bly so tot die einde van die maand.

Baie dankie aan almal wat vir ons geskryf het - ons kan nie in woorde sê wat dit vir ons beteken nie. Dit het nou 'n daaglikse ritueel geword om vir die posman te wag en ons is altyd so opgewonde om die lugposbriewe te kry! Ons kry die daaglikse SA nuus via E-mail en is dus op hoogte met ons land se doen en late en ons wil net so op hoogte wees met nuus van ons familie en vriende. Skryf asb gou en ons mis julle!

Liefde,                                            Lekke,

Annelise en Tony                            Buttons