Lente 1999

News Letters Photo Album Favorites Annie's Art Gallery

Eureka, MO 63025

Mei 1999

Mooiste Lente Groete vaniut die VSA!

Liewe Familie en Vriende,

Elkekeer wanneer ek gaan sit om my nuusbrief te skryf besef ek dat daar meer tyd verby gegaan het as die vorige keer. Hierdie keer het daar 10 maande verby gevlieg! Dit beteken daar is meer nuus om te vertel. Lente het uiteindelik hier aangeland, nie dat die winter te erg was nie, dit voel net asof dit nimmer eindigend was. Alles is so mooi op die oomblik – die bome is vol bloeisels en die gras het sommer oornag groen geword. Ek het omtrent ‘n honderd bolle geplant en almal het opgekom. Die tulpe is besonders mooi. Van die bome wat ons verlede seisoen geplant het, het die winter nie oorleef nie en ons moes hulle vervang met ‘n meer geharde spesies. Dit reën die afgelope paar weke aanmekaar en die son was maar bra skaars, ons kla egter nie want ons besef die droeë en warm maande is net om die draai. Dit lyk ook asof elke lente ‘n nuwe pes voortbring wat die bome en struike aanval. Verlede jaar was dit die aaklige cicadas en hierdie jaar is dit wurms wat elke boom met bloeisels oorneem. Die St Louisans noem die pes "tent worms" – die larwes word in die takke toegespin en dit lyk kompleet soos tente. Wanneer die wurms uitbroei vreet hulle elke blom en blaar in sig en in ‘n nouse tyd is die boom kaal gestroop. Ek is nie seker of die bome die aanslag oorleef nie, sal moet wag tot volgende lente.

Sedert ek laas geskryf het, het ons weer heelwat plekke besoek. Ek was bekommerd dat ons eensaam sou wees na ons laaste gaste in Julie huistoe gegaan het – maar ons het weer begin rondreis en is nog steeds besig. Aan die einde van Augustus was ons uitgenooi om ‘n naweek in Chicago deur te bring en ons het Buttons by Nancy gelaat en opgery. Dit is ‘n pragtige stad en Michigan Meer is geweldig groot en hemelblou! Sodra ons afgepak het, het ons die strate ingevaar. Ons het afgeloop na die hawe en die gerestoreerde "Navy Pier". Teen skemer was ons by die befaamde "Magnificent Mile" en die geboue, winkelvensters en bome was verlig met honderde liggies en alles lyk so sprokiesmooi. Die manjefieke myl is ‘n myllange strook in Michigan Laan waar al die eksklusiewe winkels, boetieks en gallerye is. Oprah Winfrey se woonstel en ateljee, vanwaar haar TV program uitgesaai word, is ook hier. Die volgende dag het ons met ‘n trollie toer na al die bekende toeriste aantreklikhede gaan kyk. Ons het na die boonste vloer van die Sears gebou , wat die hoogste gebou in die wêreld is, gegaan. Ongelukkig was dit baie deinserig en ons kon nie baie ver sien nie. Ons het die akwarium besoek en later die middag ‘n lugvertoning bygewoon. Die Sondagoggend is ons op ‘n reuse renboot, die Seadog, al langs die kus op en af. Die motorboot loots is ‘n Suid Afrikaner wat gedurende die somer in Chicago gewerk het!

In September het ons na Hannibal, Missouri gegaan vir ‘n naweek. Hierdie keer het Buttons en Tassie saamgegaan. Hannibal is sowat 2 ure se ry noord van St Louis and bekend om 2 redes: Dit is die tuisdorp van Samuel Langhorne Clemens (Mark Twain) en Molly Brown ( ‘n oorlewende van die Titanic wat in 1912 gesink het). Dit is ‘n tipiese rivierdorp op die bank van die Mississippi wat gerestoreer is as ’n historiese plek en die avonture van Tom Sawyer en sy vriende word oral in die dorp weerspieël. Ons het ook ‘n Afrikaanse boek van Tom Sawyer in een van die museums raakgeloop.

Op 9 Oktober het ons vir ons jaarlikse padtoer na Texas vertrek en die eerste stop was in Branson, Missouri. Die hele dorp bestaan net uit teaters en vermaaklikheidskomplekse. Ons het nie na ‘n vertoning gegaan nie maar het ‘n dag in die temapark Silver Dollar City deurgebring. Van hier het ons deur Oklahoma gereis na Dallas om by ons vriende Jane en Adriaan te kuier. ‘n Besoek aan Dallas sal nie kompleet wees sonder ‘n besoek aan die befaamde Southfork, van die TV program Dallas, nie. Die plek lyk presies soos wat ons dit op TV gesien het en terwyl ons so rondloop voel dit asof ons enige oomblik in ou JR gaan vasloop. Nooit in ons wildste drome het ons gedink ons sal by so ‘n bekende TV plek staan nie!

Ons het suid gereis deur Austin, die hoofstad van Texas, na San Antonio. Dit is ‘n mooi stad en die San Antonio rivier kronkel deur die middestad. Die stadsvaders het koppe bymekaar gesit en die walle van die rivier ontwikkel en dit herhinner ons aan Venisië. Dit staan bekend as die Riverwalk en daar is talle kafees, restourante, winkels en hotelle al langs die rivier. Daar is ook bote wat op die rivier vaar met Gondoliers wat die toeriste vermaak. Die bekende Alamo Shrine is ook in die stad.

Van hier het ons in ‘n suid-oostelike rigting gereis na Corpus Christi en Port Aransas langs die kus. Port Aransas is op ‘n eiland en ons moes op ‘n pont vanaf die vasteland na die eiland gaan. Die water was vol dolfyne en hulle het al langs die boot geswem. Ons het ‘n strandhuisie op die strand gehuur en om by die huis uit te kom moet jy letterlik op die strand ry. Padre Eiland is ‘n lang dun eiland wat die lengte van Texas se kuslyn beslaan en lyk soos ‘n smal sandduin vanuit die lug. Daar is geen bome nie, net sand, gras en geel wildsblomme. Die strandhuisie is nie baie groot nie en is uit houtplanke, wat al grys verweer het, gebou en lyk maar bra eensaam so op die sandduin. Toe Tony die plek sien wou hy eers nie daar bly nie – iets gemompel van die plek is te geisoleerd en lyk te vervalle – op die ou end het ons 6 heerlike dae hier deurgebring! Ons is met bote uit om na die dolfyne te kyk en ‘n kleiner onbewoonde eiland, St Jo, te besoek. Daar was jellievisse en blou bottels en ons het nie gewaag om in die see te swem nie, dit was nogal ‘n aangesig om die duisende jellievisse in die water te sien swem. Buttons was op die strand toegelaat en hy het krappe en seemeeus gejag, seker gemaak dat sy voete nie naby die water kom nie en myle saam met ons gestap en gehardloop.

Ons is weer terug na die vasteland en het noord al langs die kuslyn gereis na Galveston. Ons het in ‘n hotel langs die NASA kompleks gebly. NASA is halfpad tussen Galveston en Houston. Ons het op ‘n toer deur die lugruimsentrum gegaan en vuurpyle, "space shuttles" en die kommunikasie sentrum gesien. Ons het ook die lugruimstasie wat tans deur Amerika, Kanada, Rusland en nog ‘n paar nasies, gebou word gesien. Van Houston het ons terug na Dallas gereis om nog ‘n paar dae by ons vrinne te kuier. Ons het die Sesde Vloer museum, wat die gebou is waaruit John F Kennedy geskiet was, besoek en in Dallas se middestad rondgeloop. Ons het ook die "stockyards" in Fort Worth besoek en tussen die egte cowboys rondgeloop. Ons het aandete in ‘n Country en Western nagklub, Billy Bob’s, geeët en gesien hoe hulle "square dance". Ons het besluit om liewers nie deel te neem nie, want ons het soos ‘n seer duim uitgesteek met ons gewone klere – almal het cowboy hoede en stewels aangehad en yslike groot gordel gespes.

Op pad terug na Eureka het ons in Little Rock, Arkansas gestop en die staatsgebou besoek. Na 3000 myl het ons by die huis gekom en kan nie glo dat ons net die oostelike deel van Texas deurgereis het nie!

Halloween was weer vol pret en monsters en Button het weer die lekkergoedbak bewaar met al sy mag! Tony het besluit om hierdie keer nie ‘n gek van homself te maak nie en hy was heel besadig aangetrek. Hoe vervelig!

Voor ons ons oë kon uitvee was dit al weer Desember en tyd vir die kersversierings. Die weer was nog lekker en ons kon die huis behoorlik versier. Ek het nuwe liggies in ‘n kataloog ontdek en stringe van die liggies gekoop. ‘n Mens hang dit net onder die afkap van die dak en wanneer dit verlig is lyk dit kompleet soos ysnaalde wat van die dak afdrup. Natuurlik het al die bure van die idee gehou en al die huise in die straat het op die ou einde dieselfde gelyk. Hierdie liggies was ook landwyd geweldig populêr en in ‘n nouse tyd kon ‘n mens dit nêrens meer te koop kry nie! Die naweek voor Kersfees het ons na Kansas City gegaan om ons kersinkopies te doen. Kansas City is sowat 250 myl wes van St Louis op die grens van Missouri en Kansas. Die middestad van KC is in Missouri. Die stad was vreeslik mooi versier vir Kersfees. Die temperature het egter benede vriespunt gedaal en die mees gesogte winkels in KC is versprei oor sowat 8 stadsblokke. Ons het ons nie laat afsit deur die koue nie en het al ons inkopies klaar gemaak. Op pad terug het ons in ‘n ysstorm gery en niemand het vinniger as 25 – 30 mpu gery nie. Ek het nog nooit so baie ongelukke en wrakke op eenslag langs die pad gesien nie!

Ek en Tony het ‘n heerlike Kersoggend gehad en teen etenstyd het ons darem baie hard gewens dat ons saam met ons familie was.

Ons het in Forest Park gaan ysskaats en by Hidden Valley gaan ski en het oujaarsaand na ‘n simfonie konsert en dans gegaan. Die Powell Simfoniesaal is ongelooflik mooi en dit was ‘n baie deftige geleentheid om die oujaar mee af te sluit. Dit het op Nuwejaarsdag begin sneeu en ons het ongeveer 4 duim sneeu gehad. Tony moes maar die sneeuskoffel uithaal en die oprit skoon kry en na hy klaar was met die rugkrakende werk was die sneeu ook nie meer so mooi nie!

Aan die einde van Januarie het ons weer gereis. Hierdie keer het ons na die beroemde Rocky Berge in Colorado, gegaan. Buttons het by Nancy gebly en ons is per vliegtuig na Steamboat Springs wat sowat 157 myl noordwes van Denver is, om vir 4 dae te gaan ski. Steamboat Springs is ‘n regte cowboy dorp en almal ski met cowboy hoede ipv warm kêpse. Die berge is majesteus en die dae was lekker sonnig maar koud. Die laaste dag het dit gesneeu en ons het dit te moeilik gevind om te ski. Die tyd het omgevlieg en ons wens ons kon langer bly.

Na nog slegte weer in St Louis, het ons besluit om van die sportmotor, wat heeltemal onveilig is in sneeu, ys en nat weer, ontslae te raak. Ons het die Camaro ingeruil op ‘n Audi A6 Quattro, wat ‘n 4 wiel aangedrewe motor is en ons behoort nou nie meer probleme te ondervind in ongure weer nie. Natuurlik nou dat ons die Audi het, het ons ook nie meer slegte weer nie, dus weet ons nog nie hoe die Audi sal vaar nie. Ons het die motor van handelaar genaamd "Parktown Motors" gekoop – klink bekend nê?

En natuurlik moes ons op reis gaan met die nuwe kar! Ons het na die Ozark Nasionale Rivier Park in suid Missouri gegaan en houthuisie in ‘n klein dorpie, Eminence, gehuur. Ons het in die woude gaan stap en die riviere, wat meestal deur natuurlike fonteine gevoed word, is ‘n pragtige ligblou kleur. Beide honde was saam en is op tou agter ons aan op die staproetes.

Ek het ‘n kans gehad om een van my lewensdrome te bewaarheid. Op my verjaarsdag het ek ‘n vliegtuig gevlieg! Dit was ‘n Piper en ek het saam met ‘n instrukteur en Tony, as ‘n passasier in die agtersitplek, die lug in. Die instrukteur het opgestyg, geland en met die toring gekommunikeer en ek het die res gedoen. Eerstens het ons om die vliegtuig gestap om te verseker dat alles gereed is vir die vlug, daarna het ons ingeklim en gereed gemaak vir opstyg. Ek het die vliegtuig gestuur tot op die aanloopbaan en die loods het opgestyg. Ons het in ‘n westerlike rigting gevlieg en omtrent 40 minute in die lug spandeer voor ons teruggedraai het. Dit was baie opwindend en ek verstaan die konsep van vlieg ten volle, ek sou baie graag my private vlieglisensie wou bekom – wie weet dalk gebeur dit nog!? Tony was baie sportief en het nie een keer geklae as die vliegtuig se neus op en af tiep omdat ek deurmekaar geraak het met die kontroles, nie.

My Pa kom einde van Mei weer vir 6 weke kuier en ons sien baie uit daarna. Ons beplan om ons jaarlikse verlof in Junie te neem terwyl hy hier is. Ons gaan ‘n groot Winnebago (28 voet lank) huur en na die noordooste reis. Ons gaan na Niagara watervalle en dan oor na Kanada vir die eerste week en weer terug na die VSA vir die tweede week. Ons beplan om van die groot stede op die pad te besoek. Die karavaan het ‘n TV, ‘n vol kombuis, stort en toilet en baie slaapplek, dus behoort Buttons en die 3 van ons heel gerieflik te wees. Ons het nog nie in Amerika gekamp nie en sien uit na hierdie nuwe ondervinding!

Soos julle seker kan agterkom het ons nou ten volle aangepas en is ons heel gelukkig en tevrede, ons mis net al ons familie en vriende. Ons wens ons kon almal meer gereeld sien en onthou julle is altyd in ons gedagtes en ons harte. Skryf asseblief gou!

Baie liefde,                                                                  Lekke,

Annelise and Tony                                                       Buttons and Tassie