Lente 2000

News Letters Photo Album Favorites Annie's Art Gallery

Eureka, MO 63025

April, 2000

Millennium en Skrikkeljaar groetnis vanuit die VSA!

Liewe Familie en Vriende,

Ek vra omverskoning vir die van julle wat al dink ek het julle vergeet, maar dit lyk asof my Halloween nuusbrief nie by almal uitgekom het nie. So, ek sal ‘n bietjie van die nuus herhaal in hierdie brief, vir die wat dit ou nuus is, vergewe asb.

Hallo daar, hier is ons al weer 4 maande in die nuwejaar en niks het gekom van die media se aanhits oor die Y2K gogga (nou net ‘n vae herhinnering), nie. Tyd vlieg so vinnig verby dat voor ons, ons oë kan uitvee is die ware millennium op ons. Tony en ek kan ook nie glo dat ons al 4½ jaar hier is nie. Aan die einde van die jaar kan ons aansoek doen vir burgerskap en dan gaan ons Amerikaners wees met hierdie vreemde Suid Afrikaanse aksent.

Ons het ‘n heerlike en besige somer in 1999 gehad. My Pa se 6 weke kuier het te vinnig omgevlieg. Ons het 'n heerlike reis deur Kanada en Nieu Engeland (die noord oostelike state in Amerika) gehad. Ek en my Pa het die kamplewe geniet maar Tony was minder beïndruk. Ons het 3000 myl in 2 weke afgelê, wat beteken dat Tony meestal agter die stuurwiel was en die RV het konstante herstellings nodig gehad en dit het hom vreeslik gefrustreer. Ek is tans besig om Tony te probeer oorreed om weer die karavaan later in die jaar te huur om langs Michigan Meer te gaan kamp – maar tot dusver nie veel sukses nie!

‘n Kort opsomming van die weer wat ons gehad het (niks so opwindend soos al julle reën nie): Somer was besonder warm en droog. Herfs was lekker matig en die bome was weer ongelooflik mooi. Winter was ook matig, amper soos ‘n hoëveld winter maar met ‘n paar sneeustorms (ons het net 2 keer sneeu gehad), die enigste klagte wat ek het is dat dit so nimmereindigend is. Lente het amper ‘n hele maand te vroeg ge-arriveer en die weer is baie wisselvallig op die oomblik met ‘n paar warm dae en dan sommer weer koud. Ons eis ook maar wanneer lente aanbreek want dit is wanneer ons vreeslike donderstorms kry en daarmee saam die gevaar van die tornados. Buttons is ook vreesbevange tydens die storms en wanneer ons weet ‘n storm is oppad gee ons hom maar ‘n uitklop pil, wat ons by die veearts gekry het. Alle aanduidings tot dusver is dat ons weer ‘n warm en droeë somer gaan hê, so stuur asb. van die oormatige reën.

Nadat my Pa weer terug huis toe is het ons vir die res van die jaar kort uitstappies onderneem. In Julie tydens een van die hittegolwe het ons, ons vriende in Dallas besoek en daar was dit nog warmer! Die laaste naweek in September was ons na ons dokters vriende in Kanada – hulle het vanaf Newfoundland na Nova Scotia verhuis. Dit is baie mooi daar en dit herhinner ons aan Knysna en Wildernes omgewing. In Oktober het ons na die Ozark Meer gery, grootliks om die bome in hul herfskleure te besigtig. Ons het in ‘n gastehuis gebly en dit was nog warm genoeg om met ‘n motorboot op die meer rond te vaar. Hierdie keer was ons wys genoeg om vir Buttons op moederaarde te los, die laaste keer toe ons hom in die boot laai het sy hart amper gaan staan van vrees. Gedurende die "thanksgiving" week het ons afgery na Indian Rocks in Florida, so ‘n paar myl noord van St. Petersburg. Ons het in ‘n strand kothuis gebly en ons was so 20 meter vanaf die strand en het ‘n heerlike rustige week op die strand deurgebring. Die dae was nog warm maar die water was al te koud vir swem. Vir Kersfees is ons na Branson, Missouri waar Silver Dollar city is. Die beste om hierdie tema park te vergelyk is Gold Reef City in JHB. Die hele park was in kersliggies en kersversierings opgemaak. In die middel van die park het hulle massiewe groot kersboom gehad en sodra dit donker word, kom die boom tot lewe met lig en musiekspel.

Mercantile Bank, die maatskappy waar Tony werk is deur Firstar Bank, vanaf Milwaukee, Wisconsin gekoop. Vir 3 maande het ons gedink ons sal moet verhuis na Milwaukee, wat ongeveer 150 myl noord van Chicago is en natuurlik baie kouer in die winter. Nadat ek alles oorweeg het, het ek uiteindelik vir Tony gesê ek sien nie kans om verder noord te trek nie. Ek voel ook dat ek nou behoorlik aangepas het en om nou weer net na 4 jaar weer van voor te begin is te veel gevra. Die pos wat hulle hom in Milwaukee aangebied het is ook nie regtig die moeite werd om so ‘n groot verandering te ondergaan nie, en Tony stem in dat ons maar moet bly. Die maatskappy het sy besluit aanvaar en sy dienste sal in Oktober 2000 beëindig word. Ons het egter in Januarie ‘n wonderlike verrassing gekry. Die maatskappy het vir Tony sy ou pos weer aangebied en hy kan vanaf St. Louis werk! Dit beteken wel ‘n maandelikse besigheidsreis na Milwaukee en aan die einde van Februarie het ek en Buttons saamgegaan. O aarde, dit was koud en ysig en vol sneeu en Tony was nou eers bly dat ons het nie soontoe getrek nie.

Ons was weer baie bevoorreg om gaste vanuit Suid Afrika te hê: Tony se professor van Wits Besigheidsskool, Prof. Duffy en sy vrou, Heather, het vir ‘n paar dae hier gekuier voor hulle na Miami vetrek het vir ‘n konferensie. My neef Leon en Elize was op ‘n warrelwind besoek in die VSA en ons was baie bly dat hulle ons in hulle besige program ingesluit het. Milwaukee was hulle basis en met Tony se maandelikse vergadering daar, kon ons hulle terugneem.

Ons was skaars terug toe besluit ons om Las Vegas te besoek. Wat ‘n ervaring om die plek te beleef! Dit is ongelooflik om die reuse hotelkomplekse al langs die befaamde "Strip" te sien. Daar was so baie om te doen dat ons amper nie kans gekry het om te dobbel nie, ons is in elk geval te suinig om te dobbel. Gelukkig is daar orals 5 sent masjiene en ons kon lank besig bly met $20.

Vir ons jaarlikse vakansie beplan ons om na die Florida Keys (Key West), so teen middel Mei, te gaan. Oppad soontoe sal ons Disney World besoek vir die jaar 2000 feesvierings.

Op die oomblik is almal besig om in hul tuine te werk om van al die ou dooie winter oorblyfsels te verwyder en die somer plante te plant. Ons tuin lyk baie mooi met die tulpe, affodille en ander bolplante. Ek is glad nie ‘n kranige tuinnier nie maar hierdie tyd van die jaar is altyd so mooi dat ek besluit het om Tony te vra om vir my nog blombeddings te maak. Hy het iets gemompel en ek hoop hy sal daarby uitkom.

Tony het ‘n webblad vir ons ontwerp en die wat toegang het tot die Internet kan die volgende adres intik om dit te gaan besigtig:

http://msnhomepages.talkcity.com/BoomerSt/lazysurfer/default.htm

Ons hoop om vir Kersfees te kom kuier en almal weer te sien, op hierdie stadium weet ons ons egter nog nie vir hoe lank ons sal kan kom nie. Ons mis almal vreeslik en hoop om gou van julle te hoor.

Al ons liefde,                                                                     Lekke,

Annelise en Tony                                                             Buttons en Tassie