Somer 1996

News Letters Photo Album Favorites Annie's Art Gallery

Eureka, Missouri

Julie 1996

Liewe Familie & Vriende,

SOMER GROETNIS VANUIT DIE V S A !!!

Mensig dit is warm!!! Ons ervaar tans temperature van gemiddeld 95° F (omtrent 36° C) wat nie te erg is vir somer nie, maar die humiditeit is tussen 80% en 90% wat die aanvoelbare temperatuur 104° F (40° C) maak. Soms as ‘n mens buite toe gaan voel dit asof jy in ‘n onsigbare muur van

wasem invasloop. Dankie tog dat al die huise standaard met ‘n lugverkoeler kom.

Aan die einde van Mei het ons uit die woonstel in Whispering Hills getrek. Ons nuwe huis was nog nie gereed nie en ons vriendin Debbi Marchant het ons vir ‘n week in haar huis geakkomodeer (honde en al). Teen hierdie tyd het ons omtrent al ‘n vrag goed bymekaar gemaak en haar motorhuis en kelder was vol tasse en kartonbokse.

Einde ten laaste was ons huis gereed en ons het ingetrek op 6 Junie tydens een van St Louis se berugte donderstorms. Ons was nogal verlig toe die 40 voet houer hier aankom met ons meubels. Ek was oortuig dat wanneer ons die houer oopmaak iemand anders se goed binne sou wees. Binne 4 ure was alles in die huis en die meubels in die regte vertrekke, en die bokse gereed om uitgepak te word. Dit was nogal ‘n plesier om al ons ou bekende goed na 10 maande weer te sien. Een van die eerste artikels wat afgelaai was, was die honde se mandjies en dit was heerlik om te sien hoe hulle gereageer het - hulle het onmiddelik ingeklim en opgekrul en wou nie eens uitklim sodat ons die kussings kon insit nie!

Ons bly nou in ‘n klein dorpie genaamd Eureka wat ± 28 myl vanaf St Louis is. Eureka is bekend vir al die antieke winkeltjies en handelaars. Ons huis is gebou in ‘n ontwikkeling wat geleë is in "Legends Country Club". Daar is 8 verskillende ontwikkelings wat rondom die golfbane lê waarvan Vista Glen een is. Ons vind dit natuurlik baie amusant dat ons halfpad om die wêreld gereis het om op die ou einde in ‘n plek te beland wat so baie herhinner aan Glenvista (golf baan en heuwels ingesluit). Vista Glen is om ‘n meer ontwikkel en ons huis is op die meer gebou en daar is ook baie bome en heuwels rondom ons.

Ons geniet die wild hier terdeë. Daar is wilde bokke ("deer"), raccoons, eekhorings en groot arende en valke in die bosse en daar is twee "snapper" skilpaaie, paddas en selfs ‘n slang (aaklig) in die meer.

Ons het fotos van die huis geneem en gebruike gemaak van die tegnologie tot ons beskikking om dit in die brief in te sluit:

Die tweede foto is vanaf die oorkant van die meer geneem. Sommige aande sit ons op die "deck" en Braai (of moet ek sê Bar-B-Q), terwyl ons die bokkies aan die oorkant dophou. Gisteraand het een selfs versigtig afgeloop tot op die rand van die water, om te drink!!

Ongeveer 3 myl van ons is een van Amerika se groot "Roller Coaster" tema parke genaamd "Six Flags over Mid America". Ons het reeds kaartjies om te gaan en ons wag net vir koeler weer en vir die somer vakansie om verby te gaan. Wanneer ek na die hoë staal konstruksie en Ferris wiel kyk dan keer my maag sommer byvoorbaat om.

Sedert ons in die huis ingetrek het, het ons nog nie weer ‘n geleentheid gehad om St Louis verder te eksploreer nie. Tot dusver het ons die Botaniese Tuine, waar daar heelwat Suid Afrikaanse plante is, insluitende massiewe groot broodbome. Toe my Pa en ek dieretuin toe gegaan het was daar ‘n spesiale Afrika tema en ons het heel tuis gevoel tussen die zebras, leeus, kameelperde ens. Nog ‘n wonderlike plek om te besoek is die Wetenskapsentrum. Hier is ‘n Omnimax teater met ‘n 180° koepel skerm. Ons het ‘n film van die eerste "space shuttle" gesien en dit het gevoel asof ons saam met die ruimtemanne die rit meegemaak het.

Net soos die Suid Afrikaaners is die Amerikaaners sport verskrik. St Louis het hul eie voetbal (gridiron) span genaamd "the Rams", bofbal span genaamd ‘the Cardinals"en yshokkie span genaamd "the Blue Notes". Op 16 Junie het ons na ons eerste bofbal wedstryd gaan kyk en ek het dit so vervelig gevind soos ‘n dag by die krieket.

Ons eerste 4de Julie vieringe was baie lekker en ons het van een straat parade na die volgende gegaan. Daar was ook baie om te sien en te doen onder die "Arch" en ons het die lugvertonings en die vuurwerke terdeë geniet. Daar was letterlik duisende mense en ons vermoed dat die skare dalk groter was as wanneer Ellispark tot kapasiteit gevul was!

Ek het gedurende Mei en Junie ‘n bietjie konsultasie werk by Boatmen’s Trust gedoen en ek sal graag, wanneer ek besluit om terug te gaan werk toe, voort wil gaan met of kontrak of konsultasie werk. Op die oomblik geniet ek egter nog die nuwe huis en my vryheid!

Die honde is nou redelik rustig en Snuggles is soos ‘n nuwe hond. Dit lyk asof sy sommer beter kan hoor deesdae en is ook meer spelerig. Dit wys jou net hoe sensitief hulle vir verandering is en ek is seker dat hulle ook al ons meubels herken en so hier en daar ‘n bekende reukie uitsnuffel. Buttons is besig om ons mal te maak soos wat hy op al wat ‘n lewendige ding wil jag maak, van die kleinste paddatjie tot die grootste bok. Ek wonder tog wat hy sal doen as hy van aangesig tot aangesig met ‘n bok kom. Nou die dag het ons gedink ons het hom verloor. Hy het ‘n raccoon (soos julle seker nou al kan agterkom, het ek geen idee wat ‘n raccoon in Afrikaans is nie) gewaar en neus in die wind, agter hom aangehardloop die bosse in. Dit was baie warm en bedompig en hy het net al hoe dieper in die woud ingehardloop. Tony het aanhoudend na hom geroep en hy het gelukkig omgedraai en totaal uitgeput, gedehidreerd and vol dissels en bosluise teruggekom. Ek is seker daarvan hy sou verdwaal het as Tony opgehou roep het! Na ‘n rus en paar slukke water was hy egter weer reg om nog ‘n ding te gaan jag.

Beste Wense aan julle almal,

Tony en Annelise.