Somer 1998

News Letters Photo Album Favorites Annie's Art Gallery

Eureka, MO 63025

Julie 1998

Gloeiende Warm Somer Groete uit die VSA!

Liewe Familie en Vriende,

Kan julle glo daar is alweer 8 maande verby sedert my laaste brief. Vandag is ook net die regte dag om in die koel huis te sit en briewe te skryf want St Louis is al die laaste 3 dae onder 'n hittegolf met temperature in die hoë 90s met 'n aanvoelbare temperatuur van 106 grade. Wanneer dit so warm is word daar aanbeveel dat almal binnenshuis moet bly en daar word afkoel stasies oral in die stad geidentifiseer waar mense sonder lugverkoelers kan gaan! Daar word ook draagbare lugverkoelers en waaiers beskikbaar gestel aan minder bevoorregte mense deur liefdadigheids organisasies.

Julie is die maand waarin die Amerikaners 'n kans kry om hul patriotisme te betoon met die onlangse Nasionale vlag dag en die 4de Julie feesvierings. Oral wapper die "Stars and Stripes" en selfs die huise is in rooi, wit en blou linte bedek. Selfs die koekies in die winkels is soos vlae versier! Die Stokers voel nog nie soos patriote nie, maar geniet die feesvierings terdeë. Ons het veral die 4de Julie geniet saam met Tony se Ma en Leatitia!

Sedert ek laas geskryf het, het ons nog bespiegel oor die effek wat El Nino sal hê op ons weer. Wel winter was nie naastenby so erg soos normaalweg nie en lente was baie nat met skouspelagtige donder storms. Buttons is natuurlik vreesbevange as dit so donder en blits en ek het vir 'n week lank 'n pajama parade met hom onder die arm gehad. Somer toon tekens van bo gemiddelde temperature. Nou praat hulle van El Nino se sussie La Nina wat sovêr as wat ek dit verstaan die onder normale verkoeling van die ekwatoriale Stille oseaan is, wat weer 'n droogte in ons gebied kan veroorsaak. Wat nog???

Die pas afgelope lente het ons vir die eerste maal die "cicadas" teëgekom. Ek het altyd gewonder oor hulle as ek daarvan in die boeke lees en het maar altyd gedink dit is soos ons sonbesies. Hulle klink ook dieselfde maar dit is waar die ooreenkoms ophou. Hulle is lelike rooibruin vlieënde insekte waarvan die eiers vir 13 of 17 jaar dormant lê. Na die larwes uitgebroei het neem die volwasse insek al wat 'n boom en struik in vir omtrent 5 weke. Hierdie jaar het die 13 jaar en 17 jaar uitbroei periode saamgeval en ons was omtrent deur die geraas omring. Die honde het natuurlik dit geniet om die goggas te terroriseer want wanneer 'n mens aan hulle raak maak hulle 'n skreeu geluid. Die veeartse het ook gewaarsku om die troeteldiere weg te hou want hulle het 'n soet smaak en die diere eet die goed wat hulle kan siek maak. Wat 'n gesukkel om Buttons (die jagter) weg te hou!

Tony geniet nog sy werk alhoewel hy baie hard werk. Ons het 'n paar naweke terug 'n dag saam met sy werk by Six Flags deurgebring. Ek het my vrees oorwin en op die "roller coaster" gery en al die pad my longe uitgeskree. Hulle het 'n nuwe een gebou met die naam Mr Freeze en die rit neem 70 sekondes en gaan vanf 0 tot 70 mpu in 4 sekondes deur 'n paar lusse en dan regop in die lug vir 'n kwart myl waar die hele klomp tot stilstand kom en dan die hele pad in tru rat terug gaan. Tony was natuurlik vuur en vlam om hierdie rit te gaan ry, maar toe hy van aangesig tot aangesig kom het hy koue voete gekry. Ek kan hom egter nie blameer nie!

Ons Amerikaanse avontuur duur voort en ons was heel besig sedert ek laas geskryf het. Die laaste herfs was weer asemrowend mooi en ons het ons weer verlustig in die verruklike skouspel - ja ek weet ek het dit al vantvore gesê! Die feit dat hier 4 seisoene is maak op vir al die slegte weer. Ons het met die fietse op die Katy Trail gaan ry en ons het tussen die bome al langs die Missouri rivier gery. Die Katy Trail was eers die Missouri/Kansas/Texas treinspoor wat 350 myl lank is. Dit is 'n baie gemaklike pad en dit is maklik om daarop te loop of te ry (geen noemenswaardige opdraandes nie). Die pad loop verby Missouri se "Weinstrasse" en ons het by Blumenhof kelder gestop vir wyn en kaas. Ons het onder die bome piekniek gehou en daar was selfs 'n oompah orkes om die besoekers te vermaak. Noodeloos om te sê, maar die terugrit na waar die kar geparkeer was, was nie so maklik nie. Ons volgende uitstappie met die fietse was op die "Great River Road", wat al langs die Mississippi rivier, aan die Illinois kant , loop. Hierdie area is wel bekend as die winter broeiplek vir die Amerikaanse kaalkop arend en ons het in Januarie teruggegaan om na die arende te gaan kyk.

Ons het 'n heerlike Kersfees by die huis spandeer en ek was omtrent vasgevang in die gees van Kersfees ala Amerikaans. Die huis was binne en buite met liggies en kersversierings getooi en ons het 'n nuwe 7-voet kersboom versier. Die dames in die straat het een aand bymekaar gekom vir 'n koekie uitruiling en ons het van huis tot huis gegaan om die versierings te besigtig. Toe ons by ons huis kom het Buttons sy misnoë (hy moes tuisbly saam met Tony) getoon deur een van sy toegedraaide geskenke onder die boom, oop te skeur. Ons was ook getrakteer met 'n kersversierde trein. Die treinwerkers van die Santa Fe Express het 5 waens met liggies versier en die trein was hervorm in die Santa Claus Express en die trein het deur 7 state gereis en oral langs die weg gestop. Hierdie jaar het hulle ook in Eureka gestop en daar was ongeveer 3000 mense in ons klein dorpie om deur Santa en sy helpers vermaak te word. Hulle het lekkergoed onder die kinders uitgedeel en almal het kersliedjies gesing. Ons vriende van Kanada, die Nestels, het die week na kersfees vir ons kom kuier en ons het dit geniet om ons eerste gaste rond te wys.

Buttons het 'n nuwe maatjie gekry - 'n 5 pond opregte Maltees genaamd Tassie. Sy behoort aan ons buurvrou Nancy Sweeney en ons pas haar op gedurende die week aangesien Nancy se werkslading haar by die kantoor hou tot laat in die aand. Die twee van hulle kom baie goed klaar. Buttons het egter 1998 op die verkeerde voet begin - een sneeu bedekte more het Tassie oor die straat gehardloop met my agterna. Buttons besluit toe om ons te volg en hy hardloop voor 'n 4 x 4 bakkie in! Hy was met 'n harde slag eenkant toe gestamp en ek was totaal histeries. Ons het met hom veearts toe gejaag en hy was gelukkig nie ernstig beseer nie. Hy het 'n harde stamp op die kop weg en die een voorbeen was nerf af. Daarna in Februarie los ons hom by die bure terwyl ons in Suid Afrika gaan rondkinkink en die arme ou het opgehou om te eet. Teen die tyd wat ek teruggekom het was hy net vel en been. Die ander dag egter was al sy skete vergete toe ons in die tuin besig was met natgooi. Toe ons om die hoek van die huis kom sit daar 'n baba hasie in die oprit! Tassie het die hasie eerste gewaar maar sy was maar bra versigtig, toe sien Buttons die arme ding en loop hom storm. Hulle jaag die hasie tot in die motorhuis en ek het nie gedink so 'n klein dingetjie kan so 'n keel opsit nie. Teen die tyd wat ek by hulle uitkom was die hasie in 'n hoek gekeer en die honde het gelos toe ek vir hulle gil. Ek het die hasie opgetel en hy het pap in my hand gehang. Ek kon sien Buttons het hom gebyt en gelukkig was dit nie stukkend nie. Met 'n gesukkel het ek hulle in die huis gekry en ek het die arme ding gekalmeer en hom in die woud gaan neersit waar hy kruppel kruppel weggespring het. Buttons het vir 'n week daarna gaan haas jag sodra ons buite gaan, ek is seker hy het nog die smaak van haas in sy mond!

Gepraat van ons besoek aan Suid Afrika - ons het 'n heerlike tyd gehad en dit geniet om almal weer te sien. Pieter en Georgia het 'n mooi troue gehad en hulle bly nou in St Lucia, waar hulle hul eie restaurant die Quarterdeck het. My arme Pa weet ook nie aldag watter kind bly waar nie - St Louis of St Lucia! My Pa het saam met my teruggekom en hy het 10 weke hier spandeer en ons was omtrent aan die gang sodat hy soveel as moontlik kan sien. Dit het selfs die eerste week gesneeu en net voor hy weg is het hy 'n smakie van die warm somerweer ondervind. Ons het een naweek na Springfield, sowat 3 ure suidwes van ons, gereis. Daar is 'n winkel genaamd Bass Pro Shop, wat spesialiseer in alles wat 'n visterman se hart sal begeer, van die kleinste hoek tot die grootste boot of karavaan. Die plek is so groot dat 'n mens maklik 4 rugby velde daarin sal kan pas en ons moes Pa goed dophou dat hy nie sy hele vakansie toelaag op een slag blaas nie! Nog 'n eerste ondervinding was om met die motor op 'n pont, oor die groot riviere te vaar. Ons het my Pa geneem om die Great River Road te sien en ons is toe oor die Illinois en Missouri riviere met die pont. 'n Mens ry met die kar tot op die pont wat 15 karre op 'n slag kan laai. Dit voel nogal aardig wanneer die spulletjie oor die rivier begin vaar. Buttons kon ook nie verstaan hoe die kar kan beweeg as ons almal buite rond staan nie. Ons vriende, die Joostes het vir 4 dae aan die einde van Mei kom kuier en Pa was darem nog byderhand om hulle rond te wys.

Tony se Ma en sy tannie, Leatitia, het 2 wonderlike weke hier spandeer en ons was weereens baie besig om vir hulle al die beste plekke te wys. Hulle het die Julie hitte op sy ergste beleef. Benewens al die bekendste toeriste aantreklikhede het ons ook uitgery na 'n klein Amish dorp in Arcola, Illinois. Daar het ons na Rockome Gardens, 'n Amish tema park, gegaan wat deur die Yoder familie bestuur word. Die handgemaakte dekens (quilts), waarvoor die Amish so bekend is, was iets om te beskou. St Louis spog ook met 'n ope lug teater, die Muny, en ons het die Radio City Rockettes daar sien optree. Dit was 'n mooi soel aand en ons besoekers het dit terdeë geniet. Die 2 weke het omgevlieg en Ma en Leatitia het met vol gestopte tasse die lang pad terug weer aangepak.

Ons ouers het ook 'n kans gehad om op die lottery te wed. Terwyl my Pa hier was het die prysgeld opgegaan na 150 miljoen dollar!! Ons het ons paar dollar verwed maar 'n afgetreede paar van Illinois het gewen. Terwyl Tony se Ma hier was, was die prysgeld 80 miljoen dollar maar niemand het tot dusver gewen nie. Die lottery word die Powerball genoem en 'n mens moet ses nommers kies waarvan die sesde die Powerball is. Jy kan enige nommer kies en die rekenaar sal ook een genereer as jy nie weet wat om te speel nie. Dit kos $1 per slag en jy kan natuurlik soveel kere speel as wat jy wil. Dit is nogal pret om te speel wanneer die prysgeld so klim, al is die "odds" teen 'n mens so hoog.

Die huis is nou maar bra stil nou dat al die besoekers weg is en ek en die honde begin stadigaan terugkeer na ons ou roetine. Ons was omtrent geseën om so baie besoekers te hê. Die res van die jaar gaan maar stil wees, gelukkig het ek alweer 'n klomp pret projekte wat vir my wag. Ons beplan ook 'n naweek na Chicago teen die middel van Augustus en as alles reg verloop gaan ons in Oktober ons vakansie in Texas (Hee Ha) deurbring.

Ons liefde en beste wense aan almal en skryf asseblief gou! 

 Liefde                                                                         Lekke

Annelise en Tony                                                         Buttons en Tassie