Winter 1997

News Letters Photo Album Favorites Annie's Art Gallery

Eureka, MO 63025

Februarie 1997

Warm Winter Groete vanuit die VSA!

Liewe Familie & Vriende,

Dit is moeilik om te glo dat 'n hele jaar al weer om is vandat ons die eerste nuusbrief geskryf het! 1997 het gearriveer en ons is al in die 2 de maand. Gelukkig is ons nou meer gevestig en in 'n meer normale roetine en daarom dat die tyd nou weer so vinnig verby vlieg. Ek werk nog steeds Donderdae en Vrydae van 10vm tot 5nm. Sodra ek besluit om terug te keer na 'n regte werk gaan ek darem baie swaar kry om dou voor dag op te staan.

Herfs in Missouri was besonders mooi en die bome was bedek in herfskleure - rooi, oranje, roes en geel so ver as wat die oog kan sien. Ons het goed gebruik gemaak van die heerlike dae en baie rondgery en onder andere die wynplase in die omgewing besoek. Die wynmakers maak daarop aanspraak dat hulle die beste in die wêreld is en ek en Tony lag net lekker in ons moue. Die wit wyne is nie te sleg nie maar die rooi wyne wat ons geproe het is sleg - proe soos suur muf. Die wynplaas, Stone Hill, wat ons besoek het is in 'n klein Duitse dorpie genaamd Hermann. Meeste van die geboue is nog die oorspronklikes wat deur die Duitse setlaars gebou was. Die dorp is sprokies mooi en blykbaar het die setlaars juis die omgewing gekies omdat dit hulle herhinner het aan die Rhynvallei in hul tuisland.

Ons het ook in een van die Nasionale Parke, Rockwood, wat so 'n paar minute se ry van ons huis is gaan stap. Hulle het die dag 'n familie dag in die woud gehad om die kinders meer van bewaring te leer. Ons het die 3 myl stap roete geneem en ons letterlik vergaap aan al die bome. Ons kan nog steeds nie almal identifiseer nie maar ons weet darem al hoe die meer bekendes lyk. Die blare het al begin val en dit het al die geluide in die woud gedemp.

Halloween was vir ons 'n groot ervaring en het dit vreeslik geniet. Die kinders was almal in een of ander kostuum en van hulle het bangmaak stories vertel. Buttons was nie te ingenome met die hele affêre nie en het die bak met lekkers met sy lewe bewaar. Ek is seker daarvan hy het gevoel dit is sy lekkers - hy het nie verniet so 'n soettand nie - en was glad nie ingenome met die feit dat dit aan vreemdelinge by die deur weggegee was nie. Elke keer wanneer die kinders weg is het hy sy kop in die bak gedruk om seker te maak daar is nog oor. Ek het 'n foto van hom met sy kop binne in die bak. Snuggles het haar egter min aan die hele besigheid gesteur. Al die huise was vir Halloween opgemaak met allerlei spokerige en grillerige goeters en die pampoen gisigte was verlig met kerse aan die binne kant.

Die besoek aan my ouers tydens November was baie lekker en die enigste nadeel was dat Tony en die honde moes agterbly. Gelukkig het die bure hulle oor Tony ontferm en hy was omtrent vir elke aand vir ete genooi. Ons buurvrou Diane het die honde in die middag laat uit gaan en die kinders oorkant die straat het hulle geneem vir 'n lopie wanneer hulle van die skool af kom. Dus was Tony en die honde goed besig gehou in my afwesigheid. Tony was ook deur omtrent almal in die straat uitgenooi vir Thanksgiving en hy het letterlik van huis tot huis gegaan om iets by elkeen te eet.

Kersgety was ook besonders mooi - al die huise is van kop tot tone met gekleurde liggies en spesiale kersversierings bedek. Een van die groot maatskappye het elke boom op hul 10 akker grond in liggies bedek. Die hoofweg loop in die middel van die kompleks deur en 'n mens het amper sonbrille nodig gehad wanneer jy daar verby ry! Daar is ook 'n hele klomp parke wat met Kersversiering en liggies versier was en ons het deur een gaan ry wat "Santa's Magical Kingdom" genoem was. Tony het ook ons huis versier en die bure het hom geterg en hom Griswald (vanuit die fliek National Lampoons Christmas Vacation met Chevy Chase) genoem. Griswald het sy huis so vol liggies gemaak dat toe hy dit aanskakel die dorp se krag afgegaan het. Ons huis het egter baie mooi gelyk.

Ons het vir die week oor kersfees na vriende in Greenville, Suid Karolina gegaan. Dit is sowat 730 myl en dit het ons 2 dae geneem soontoe. Ons is deur 'n aantal state - Illinois, Kentucky, Tennessee, Noord en Suid Karolina. Dit was 'n interresante rit en ons het in Cookeville, Tennessee oorgeslaap en die honde het weereens van die nomadiese leefwyse gehou en op die beddens in die hotel rondgespring net soos stoute kinders. Ons het deur die Smoky Nasionale park gery en was nogal jammer om nie vir Smoky die beer te sien nie - hy was blykbaar besig om te hiberneer. Kersdag was op ‘n eg Suid Afrikaanse tradisie gehou en Amanda en Monty het 'n huis vol Suid Afrikaners gehad (13 grootmense, 10 kinders en 2 honde). Ons Amerikaanse vriende was nogal beindruk toe hulle die foto van ons almal om die kerstafel sien met ons gekleurde papierhoede en klappers. Die hoede en klappers is iets nuuts vir hulle en hulle dink dit is 'n mooi tradisie. Die week het vinnig verby gevlieg en ons het met 'n ander pad via Atlanta teruggereis. Ongelukkig kon ons maar min van Atlanta en die ander besienswaardighede sien agv digte mis. Ons het op die grens van Georgia en Tennessee gestop om na die Ruby Falls, 'n ondergrondse waterval in grotte, te gaan kyk. Ons het oorgeslaap in 'n klein dorpie met 'n vreemde naam, Murfreesboro so 10 myl vanaf Nashville, Tennessee.

Oujaarsaand het ons stad toe gegaan om die vuurwerk vertoning onder die boog te sien. Die vuurwerke was asemrowend soos gewoonlik en dit was mistig wat die aand nogal romanties gemaak het. Ons het ons eerste groot sneeustorm in die 2de week van Januarie gehad en die pret het begin. Dit het 9 duim gesneeu en die Stokers, wat natuurlik nie gewoond is aan sneeu, het met die Camaro in die sneeu uitgegaan. Tony het bestuur tot by die busstop en ek moes terug bestuur. Ek het met 'n gesukkel weer tot by die huis gekom en toe ek in die oprit inry val die Camaro in die sneeu vas. Daar staan ek met die neus in die oprit en die agterstewe in die straat! Gelukkig het 2 ouens my gehelp stoot en ek kon die kar in die motorhuis kry. Die Camaro is agterwiel aangedrewe en beslis nie gemaak vir sneeu en ys kondisies nie. Hierna het on die Camaro in die motorhuis gelos en met die bussie gery wat voorwiel aangedrewe is. 'n Week later het ons ysreën gehad wat een duim yslaag op die paaie gelos het. Hierdie keer het omtrent niemand by die werk uitgekom nie want dit was te gevaarlik om op die paaie te ry. Daarna het ons nog 4 duim sneeu bygekry. Ek het 'n klein ongeluk met die bussie gehad toe ek uit die motorhuis uitkom het die agterwiele op die ys begin gly en ek het my oë van die pad geneem en op daardie oomblik het ek die kant spieël teen die garage se deur gestamp en dit het in stukke gebreek agv die bittere koue. Kan julle julself indunk hoe hierdie twee Suid Afrikaners sukkel met dinge soos kar deure wat vasgevries het?

Die honde het hierdie keer nie soveel omgegee dat dit sneeu nie dit was die ys wat hulle hierdie keer gepla het. Hulle pootjies het begin vries en dan probeer hulle natuurlik al vier voete gelyktydig oplig! Ek moet dan so gou as moontlik by hulle probeer uitkom sonder om my nek op die ys te breek om hulle in te dra. en gewoonlik is die een in die een rigting in en die ander in die ander rigting. Snuggles het op die ys probeer hardloop en dit het gelyk asof sy ysskaats. Op een stadium het Buttons skuins on sy een boud gaan lê en al vier voete in die lug gehou. Die kinders dink natuurlik dit is 'n fees want die skole sluit en hulle is in die buitelug elke oomblik wat hul kan om sneeumanne te bou en om teen al wat 'n bult is af te gly op sleës.

Ons het temperature vanaf minus 22 tot minus 10 grade celsius beleef tydens die ysreën en daardie naweek was die temperatuur weer op na 18 grade celsius - warm genoeg om te gaan ski en om op ons fietse te gaan ry. Ons het ski boots vir Kersfees gekry en ons het dit gaan uittoets op St Louis se eie ski-oord! Hidden Valley is maar 10 minute se ry van ons af en daar is 8 ski "slopes" en 2 ski "lifts". Daar was omtrent 3 voet sneeu op die grond en die onlangse sneeu het die ski kondisies uitstekend gemaak. Ons het die dag baie geniet en beplan om volgende seisoen die Rockies aan te durf - op die oomblik is ons egter heeltemal tevrede om ons vernuf op ons eie ski oord te verbeter.

Die volgende groot sport gebeurtenis hier in die VSA was "Superbowl Sunday" (soos die Curriecup finaal) die eindstryd om die beste voetbal span te bepaal. Die dag het in een groot partytjie ontaard en daar is omtrent in elke huis, restaurant en hotel een of ander fees gehou. Ons was deur ons bure oorkant die straat uitgenooi. Ek verstaan nog steeds die spel nie so lekker nie dus gaan ek nie eers probeer om verder te verduidelik nie - ek weet darem wie die twee spanne was: Die "Greenbay Packers" van Wisconsin en die "New England Patriots" van Boston. Die Packers se kleure is groen en goud en ek het vir hulle geskreeu. Die wenners was natuurlik die Packers en hulle het die Patriots 35 - 21 geklop.

Die maatskappy (Boatmen's Bank) wat Tony voor werk is deur Nations Bank, 'n groot bank uitgekoop en die samesmelting maak Nations Bank nou die derde grootste bankgroep in Amerika. Ons verwag dat ons dalk sal moet trek afhangende van waar hulle vir Tony nodig sal kry. Op hierdie stadium weet ons nog nie presies wat gaan gebeur nie. Tony is ook besig om na ander geleenthede hier in St Louis te kyk sodat ons darem 'n paar opsies het om te oorweeg. Ons gee ook nie regtig om as ons weer moet trek nie, die maatskappy sal vir die verhuising betaal - dit is net ongerieflik om so gou weer te pak.

Ons hoop ook dat 1997 die jaar sal wees dat ons besoekers van Suid Afrika sal kry! Verder wil ons julle almal 'n voorspoedige 1997 toewens, ons mis julle en hoop om gou van julle te hoor.

 Baie liefde                                                                     Lekke

Annelise en Tony                                                             Snuggles en Buttons