Winter 1996

News Letters Photo Album Favorites Annie's Art Gallery

Februarie 1996

Skrikkeldag Groetnis vanuit die VSA!!!!

Liewe Familie en Vriende,

Dit is vandag ‘n ideale dag om briewe te skryf want dit is koud (29°F of -2°C) en winderig, gelukkig is die troosprys dat die son helder skyn.

Die verhaal van ons Amerikaanse avontuur gaan voort en ons het die volgende paar mylpale behaal. Tony het ‘n werk en ons het getrek. Soos hulle in die Cowboy boeke skryf "GO WEST MY SON, GO WEST" – só ook het ons wes getrek, 980 myl verder!

Met ons aankoms in New York nou net ‘n veraf, vae herhinnering het ek gedink dit sal pret wees om ons ervarings op te som en dit in hierdie brief weer saam met julle te herleef. Die week in New York was opwindend en ons (honde ingesluit) het die besige en baie groot stad baie geniet. Ons het in beide die Empire State en World Trade Center geboue opgegaan na die observasie platforms. Wat ‘n uitsig - "skyscrapers" so ver as die oog kan sien. Terwyl ons op die 110 de vloer van die World Trade sentrum was het ‘n ligte vliegtuigen ‘n helikopter verby gevlieg en ons moes afkyk na die vliegtuie!

Central Park is massief – as ‘n mens in gedagte hou dat dit ‘n park is – en is ongeveer 2½ myl lank en ½ myl breed. Ons het die honde elke oggend geneem om in die park te hardloop en ons kon elke oggend op ‘n ander roete loop. ‘n Interresante feit is dat ons uit ‘n Johannesburg vertrek, met onaanvaarbare hoë getalle van moord en doodslag, en ek het genadiglik persoonlik nog nooit ‘n dooie mens gesien nie en op ons tweede dag in die park kom ons op ‘n toneel af waar die polisie besig was om ‘n lyk in ‘n lyksak te sit. Net die volgende dag kom ons op ‘n toneel af waar die polisie die buitelyne van nog 2 lyke vroeër getrek het. Maar nou ja dit is seker maar tipies van die geweld in groot stede.

Ons het ‘n groot paneelwa, ‘n Dodge RAM, gehuur om al ons bagasie na Washington te karwei. Die rit het omtrent 3½ ure geneem en dit was ook ons eerste blootstelling aan die VSA se hoofweë en verkeer. Partykeer was daar 6 bane verkeer in albei rigtings! Dit was nogal intimideerend om tussen só baie verkeer te bestuur en dit nogal aan die verkeerde kant van die pad.

Nog iets wat baie treffend was, was al die bome langs die paaie. ‘n Mens kan amper nie deur hulle sien nie en dit het naderhand begin voel asof ‘n mens in ‘n tonnel bestuur. Die kleure was egter ongelooflik mooi. Ons was betyds om die bome in hulle volle herfs glorie te sien – oranje, roes, geel en so hier en daar ‘n tiksel groen. Die bome wat ons kon identifiseer is "sugar maples, dogwoods" en eoke bome. Die massas bome het ons nogal beïndruk en ons reaksies het as volg verloop: "Waar is die horison" (engtevrees), "Kyk hoe baie bome" (verbasing), "Haai, kyk ‘n oop veld" (tergend) na "Selfs nog meer bome in St Louis" (ongeloof).

Ons woonstel in Bethesda, Maryland was omtrent 35 minute se ry (as ‘n mens ‘n kar het) vanaf die withuis, museums, gedenktekens en Capitol in Washington DC. Bethesda is ‘n ouerige dorp met nogal heelwat goed opgepaste ou geboue in die Art Deco boustyl, wat uit die sestiger jare dateer. Die dorpie het my herhinner aan Alberton toe ons (die Geldenhuyse) soontoe getrek het in 1964. Bethesda Hills is ‘n nuwerige kompleks en ons het lekker gebly. Die enigste negatiewe kritiek was al die verkeer geraas. Ons was in die middel van een van die besigste wisselaars in die omgewing en om alles te kroon het die moltrein in die middel van die hoofweë vannuit die ondergrondse tonnels uitgekom.

Die honde het hul lang reis vanaf Johannesburg na DC goed getrotseer. Hulle het egter "kennel cough" opgedoen – seker vanaf ‘n ander hond in Central Park. Die veearts het medisyne voorgeskryf en Buttons was na ‘n week weer springlewendig. Snuggles het langer geneem om gesond te word as gevolg van haar swak hart en hoë ouderdom. Sy is ook nou so doof soos ‘n kwartel en ons kommunikeer met handgebare. Buttons het ‘n nuwe kreatuur ontdek – die Noord Amerikaanse eekhoring. Hy raak skoon van sy trollie af as hy een gewaar of as hy hulle spoor sny. As hy kon boom klim dan sou hy! As ons sê "waar is die kittie kat?" hardloop hy na die eerste beste boom en spring teen die boomstam op.

Ons was baie bevoorreg om ons eerste Suid Afrikaanse gaste vir ‘n naweek in Desember te hê en het die tydjie saam met Adriaan en Jane baie geniet. Dit was heerlik om al die wonderlike toeriste aantrekkings in DC saam met vriende te deel. Ons kan nie wag vir ons volgende gaste nie – so begin spaar en kom kuier vir ons!

Die Amerikaners leef omtrent van een vakansiedag na die volgende. Ons het net na Halloween (31/10) hier aangekom en daar was nog heelwat huise wat met spoke en geraamtes versier was. Die volgende vakansiedag was Thanksgiving (3de Donderdag in November), daarna Kersfees en Nuwejaar en toe Valentynsdag. Elke vakansiedag het sy eie versierings (tot die grootste plesier van die winkeleienaars) en tradisies. Die huise het besonders mooi gelyk vir kersfees en hulle het selfs vir valentynsdag groot rooi harte in hul vensters geplak.

Ons het die week oor Kersfees en Nuwejaar by ons vriende in Kanada deurgebring en ons was baie dankbaar om nie ons eerste Kersfees in die vreemde alleen deur te bring nie. Die honde het tuisgebly met hul eie honde/ huis sitter. Ons was natuurlik oortuig dat ons ‘n wit kersfees sou hê, maar ‘n week vroeër was daar baie reën wat al die sneeu weggespoel het en terwyl ons by Tony en Mada was, was die temperature onseisoenlik warm (1°C) en dit het nie weer gesneeu nie. Ons het Kersdag saam met 11 Suid Afrikaners gevier en dit was heerlik om net Afrikaans te praat!!

Ons was terug in die VSA voor nuwejaarsdag en ons het ‘n besonder stil oujaar op ons eie deurgebring. En toe tref die grootste sneeustorms, sedert 1922, die ooskus van Amerika. Na die eerste storm was ons onder 2 voet sneeu begraween ‘n week later val daar nog 12 duim. Alles het tot stilstand gekom, niemand kon êrens kom nie en die owerhede het hulle hande vol gehad om al die paaie weer toegangklik te maak. Die storm was offisieël gedoop "BLIZZARD OF 96" maar is gou verander na "THE BIG DIG OUT’. Dit was die eerste keer dat ons nie jammer was dat ons nie ‘n kar gehad het nie. Die mense het skaars hulle motors uitgegrawe dan word dit weer onder sneeu begrawe.

Die honde weet nie wat gebeur het nie, want die wêreld soos wat hulle dit ken het oornag verdwynen vernader in ‘n wit wonderland. Hulle het ook volstrek geweier om uit te gaan, maar na ons hulle uitgehelp het, het hulle tot by hulle ore weggesink in die sneeu. Buttons het so groot geskrik hy het sommer begin swem! Dit was egter nie lank nie of hulle het die wit goed aanvaar en noe hardloop en spring hulle in die sneeu, asof hulle dit regtig geniet. Wat hulle egter vreeslik ongelukkig maak is die sneeubolle wat tussen hulle tone vorm en wanneer dit gaan staan hulle botstil en probeer hul bes om al vier pote gelyk in die lug te hou. Die honde het alte oulik gelyk in hulle blou en rooi truie.

‘n Week later was daar ‘n kwaai donderstorm wat al die sneeu weggespoel het en al die reën en sneeu water het veroorsaak dat die Potomac rivier sy walle oorstroom. Baie besighede en huise was meters onder water.

Tussenin deur al hierdie gebeurtenisse het ons hard na werk gesoek. Tony het bykans sestig CVs uitgestuur en ons het begin kriewelrig raak want niks positiefs wou gebeur nie. Hy het vir 2 onderhoude gegaan wat baie belowend gelyk het. Ons het ook voortgegaan om toeriste te speel. Op ‘n stadium was dit omtrent ‘n stryd om die museums te siene te kry aangesien hulle deur die federale regering bestuur word en Bill Clinton wou nie die begroting goedkeur nie en die regering was vir weke op ‘n slag toegemaak. Elke keer as hul ‘n deurbraak maak en die regering personeel was terug op hul poste dan spring ons op die moltrein om na ‘n museum te gaan. Ons het egter slegs omtrent 30% van al die museums te siene gekry – die Smithsonians is regtig baie besonders en ‘n besoek die moeite werd. Ons het darem meeste van die grootste besienswaardighede gesien: Capitol, Library of Congress, Washington-, Lincoln- en Jefferson Gedenktekens, Nasional Katedraal, Union Stasie (my gunsteling gebou), Die Withuis en ‘n klein gedeelte van die Arlington begraafplaas (te depressief om tussen grafte rond te loop).

Meeste van die mense wat ons ontmoet het is nie Amerikaners nie. Meeste mense in DC is van elders. In St. Louis is dit totaal anders en meeste mense hier is ook hier gebore. Ons bure was vanaf Duitsland en ons het ook mense vanaf Switzerland en Turkye ontmoet.

Teen die einde van Januarie, toe ons gemoedere begin daal, kom ons groot deurslag toe Tony ‘n werksonderhoud in St Louis kry. Die maatskappy, Boatmen’s Trust deel van ‘n groot bankgroep, het ons na St Louis gevlieg vir die onderhoud op 1 Februarie. ‘n Paar dae later het hulle hom ‘n aanbod gemaak en Tony het die werk aanvaar. Tydens ons besoek aan St Louis het ‘n kouefront deur beweeg en die koudste temperatuur in 20 jaar was aangeteken. Die aanvoelbare temepratuur was ongeveer -35°C. Ek het sommer volstrek geweier om verder te onderhandel want ek sal nie in sulke koue kan oorleef nie, maar almal het ons oor en oor verseker dat dit totaal ongehoord is en dat hulle net so koud kry. Ek was nie te geneë om so gou vanaf die kus weg te trek nie – ek het ‘n gevoel gehad dat ek onafgehandelde besigheid in Washington het (soos om op die strand te sit). Die gevoel het in elk geval totaal verdwyn toe ons besef wat ‘n goeie aanbod dit was. Tony is aangestel as ‘n assistant Visie President met die moontlikheid van ‘n bevordering na 6 maande na Visie President. Hy sal verantwoordelik wees vir die Trust maatskappy se rekenaar fasiliteite, soortgelyk aan sy werk by Groep 5. Die postitels klink egter baie belangriker as wat dit werklik is, ons (Suid Afrikaners) noem dit sommer maar net bestuurder. Hy het op die 16 de Februarie begin werk.

Tien dae na die onderhoud het ons opgepak en getrek. Ons het weer ‘n paneelwa gehuur om al ons goed te vervoer. Ons het deur 7 state in 2 dae gereis en 980 myl later hier aangekom. Die state was: Maryland, Pennsylvania, Wes Virginia, Ohio, Indiana, Illinois en Missouri. Ons het oorgeslaap in Zanesville, Ohio en die plek is vernoem na Zane Grey wat al die cowboy boeke skryf. Dit klink asof ek baie weet van cowboy boeke – ek weet eintlik nie veel nie, my Pa is die ekspert en Tony het een of twee gelees. Hoe verder ons reis hoe platter word die aarde, deur plaasgronde en heelwat minder bome. Die wêreld het nes die Vrystaat begin lyk. In Indiana en Illinois boer hulle hoofsaaklik met graan gewasse. Hoe nader ons aan St Louis kom het dit al hoe meer heuwelagtig geword met heelwat meer bome. St Louis lê tussen die walle van die magtige Mississippi en Missouri riviere.

St Louis is ‘n groot stad met ‘n populasie van 2.5 miljoen en die stad en voorsted lê uitgesprei oor 570 vierkante myl. St Louis staan bekend as die "Gateway to the West" en is moontlik meer bekend vir die vlekvrye staal boog. Die boog was opgerig as ‘n gedenkteken vir al die pioniers van vervloeë dae wat na die wilde weste getrek het (net soos ons) en die konstruksie is van vlekvrye staal en is 630 voet hoog. St Louis word deur die Amerikaners uitgespreek as LOO-IS (soos Lewis) en nie LOO-EE, nie. ‘n Fransman vanaf New Orleans, Pierre Laclede was die oorspronklike stadsvader en daar is dus baie Franse plekname. Ons woonstel kompleks is in Creve Coeur wat "gebreekte hart" beteken.

Die honde was weereens model reisigers en het ewe tuis in die hotelle saam met ons gebly. Ek vermoed hulle begin van ‘n nomadiese leefstyl hou. Ons woonstel is baie gerieflik en ons het ‘n eenheid op die grondvloer aan die einde van ‘n stil cul-de-sac en daar is massiewe groot grond rondom ons (amper so groot soos 3 rugby velde). Die kompleks het 2 mere met visse daarin, ‘n binnenshuise olimpiese grootte swembad, 2 buite swembaddens, ‘n gym en 2 tennisbane. Nou het ons geen verskoning om nie fiks te word nie. Dit is ook heerlik stil en wanneer ‘n mens die deure of vensters oopmaak is die enigste geluide die van die voëls.

Ons is besig om ons voete weer te vind en gaan beslis nie in die volgende 3 maande weer trek nie. My ouers gaan binnekort vir ons kom kuier en ons sien uit daarna. My volgende taak is om uit te kyk vir ‘n deeltydse kontrak en om vir ons ‘n huis te soek. Verder was ons baie bevoorreg om ‘n kar en ‘n "mini-van" te kon koop en dit is heerlik om weer wiele te hê. Die busse en treine was gerieflik maar dit is darem baie lekkerder om in jou eie ryding te kan klim en gaan net waar jy wil. Ons is nou die trotse eienaars van ‘n 1994 Chevrolet Camaro (donkergroen) en ‘n splinternuwe Plymouth Voyager (donker pruim kleur).

Baie dankie aan almal wat gereeld skryf. Ons kan nie vir julle sê hoe baie dit vir ons beteken om ‘n briefie van die huis te kry nie. Al die ander wat nog nie by die pen en papier uitgekom het nie – skryf asseblief gou!!! Ons mis ons familie en vriende vreeslik en ons is pynlik bewus van die yslike afstand tussen ons en nou is dit nog verder.

Ons beste wense aan almal en Gods rykste seën.

Liefde                                             Lekke

Annelise en Tony                             Snuggles en Buttons