Winter 2000

News Letters Photo Album Favorites Annie's Art Gallery

November 2000

Feestelike groete vanuit die VSA!

Liewe Familie & Vriende

Glo dit of nie maar ‘n hele jaar het alweer verby gevlieg. Ek hoor so dikwels die gesegde dat hoe ouer ‘n mens word hoe vinniger vlieg die tyd verby en dit is nou een van daardie dinge wat ek nie regtig wil glo nie, want ek wil nie erken ek word ook ouer nie! Nietemin Kersfees is op ons en almal is besig met kersinkopies en beplanning. Ons dorpie is al klaar met Kersliggies versier en "Thanksgiving" is eers oor ‘n week! Dit is egter een van my gunsteling tye van die jaar vernaam hier in die VSA met al die feesdae wat so kort op mekaar volg met al die hoopla wat daarmee gepaard gaan.

Halloween was op die 31ste Oktober en ons het heelwat meer kinders hierdie jaar gehad as die voriges. Ons buurt is besig om uit sy nate uit te groei en elke jaar is daar meer kinders wat kom "Trick or Treat". Tony het ‘n masker van die Grinch (uit die verhale van Dr Seuss) opgehad om die kinders skrik te maak, maar hulle is al so gewoond daaraan dat hulle skaars notiese geneem het. Buttons het weereens die bak met lekkergoed opgepas en elke nou en dan seker gemaak dat daar iets vir hom oorbly. Ons moes hom ook maar fyn dophou want hy loop weg saam met die kinders. Die kleintjies is egter die fraaiste met hulle kostuums en van hulle vertel die droogste grappies byvoorbeeld: "Why didn’t the skeleton cross the road? Because he didn’t have the guts to do it!"

Thanksgiving is die 23ste November en ons sal heelwaarskynlik na ons vriendin Nancy (Tassie se Ma) gaan. Ons gaan in Washington DC wees vanaf Sondag tot Woensdag voor Thanksgiving. Tony moet oorsig hou oor ‘n Ramp Voorsorg Beplanning toets, namens Firstar Bank in DC, en ek gaan saam vir die pret. Ek gaan weer al die wonderlike museums en monumente besoek soos toe ons vir die eerste keer in die VSA aangeland het. Kan julle glo ons is al 5 jaar hier? Ons het nou ook al die dokumente om aansoek te doen vir burgerskap – ek vind dit nog steeds so ongelooflik.

Hierdie jaar was die herfskleure ‘n groot teleurstelling. Daar was omtrent geen kleur nie. Ons het ‘n vreeslike warm September gehad en die eerste naweek in Oktober het die temperature onverwags na benede vriespunt gedaal en toe weer sommer warm na ‘n paar dae. Die blare het net bruin geword en afgeval. Ons het nie juis veel rooi en oranje gesien soos gewoonlik nie. Op die oomblik is dit koud en trietsig en hulle het al twee keer hierdie laaste week gedreig met sneeu, maar tot dusver niks nie.

Ek is nogal heel besig met my skilder en my werk met ‘n lokale Christelike Vroueklub (CWC). Ek is al die afgelope twee jaar op die raad van CWC en ons reël elke maand ‘n middagete vir ongeveer 100 dames by ‘n lokale hotel met volgepakte program. Verlede maand het ons ‘n veiling gehad en ons het $2500 ingesamel vir die mense wat sendingswerk doen vir Stonecroft Ministries. Ons groep is deel van Stonecroft Inc., ‘n internasionale organisasie, waarvan die hoofkantoor in Kansas City is, en hulle het ook kantore in Suid Afrika.

Ek geniet ook my skilderkuns en kan partymaal nie glo wat ek kan skep met net ‘n verfkwas en verf nie. My skilderye is op ons webblad - so gaan loer gerus. Ons het ons webblad verskuif na ‘n nuwe adres en ek weet meeste van julle weet daarvan, maar hier is dit weer:

https://members.tripod.com/astoker

Ons het toe gaan vakansie hou in die Florida Keys en dit was nogal ‘n ervaring. Ons het vanaf Eureka na Orlando gereis met ‘n oornag stop in Atlanta. Ons het weer ‘n besoek afgelê by Epcot en Seaworld terwyl Buttons geduldig in die hotel vir ons gewag het. Daarna het ons suid gereis na Miami en die Keys. Die Florida Keys is ‘n string eilande wat met mekaar verbind is met ‘n pad, en daar is ‘n stuk tussen twee eilande wat die pad vir sewe myl oor die see strek. Die eilande is baie gewild onder die diepsee duikers met die Atlantiese oseaan aan die een kant en die Meksikaanse Golf aan die ander kant. Key West is die laaste eiland en ook die mees gewildste. Dit is ook nader aan Cuba as wat dit aan Miami is en is die mees suiderlike punt van die VSA. Vir die diegene wat bekend is met die werke van Ernst Hemmingway sal dalk ook weet dat hy ‘n huis in Key West gehad het. Toe ons daar aankom het ons gou geleer dat klere opsioneel is in meeste van die verblyfplekke en dit was ook so in die hotel waar ons eers wou bly – noodeloos om te sê dat ons maar baie vinnig daar weg is en by ‘n oulike (en ordentlike) Gastehuis in die historiese distrik gebly het. Die volgende eiland wat ons besoek het was Marathon Keys en hier het ek geleer om te snorkel. Ons het per motorboot so ‘n half myl in die Atlantiese see na ‘n rif gevaar en vol bravade myself in die oseaan gegooi (ek hou nie eens daarvan om in die seewater in te loop nie, praat nie eers van swem nie!), nou moet ek nog my kop ook onderwater hou! Ek sal ook maar liefs nie beskryf wat se spektakel ek van myself gemaak het om weer terug te klim in die bootjie en dit sonder ‘n leer... Ons het al langs Florida se ooskus teruggereis in die rigting van die "Great Smoky Mountains" en ons het oornag in Savannah, Georgia. Die berge is indrukwekkend en die bome was so ruig en groen. Die nationale park is op die grens tussen Suid Karolina en Tennessee en die naam kom van die inheemse Indiaane wat vertel dat die mis wat opstyg na ‘n reënbui lyk soos rook. Ons het daar aangekom tydens ‘n donderstorm en die volgende dag kon ons duidelik sien waar die naam vandaan kom. Ons is vanaf die berge weer terug na Eureka en so eindig nog ‘n 3000 myl lange reis.

Ons het ook ons vriende in Suid Karolina en Dallas tydens die somer besoek en ons beplan ‘n ski vakansie aan die einde van Januarie 2001, na Vail in Colorado om ons 20ste huweliksherdenking te vier – nog ‘n ongelooflike mylpaal!

Tony sal op die 3de Desember vertrek na Suid Afrika en sal my Pa saam met hom terug bring om Kersfees hier te kuier. Intussen sal ek regmaak vir Kersfees sodat ons nie by al die bure afsteek nie. Ek is baie opgewonde dat my Pa Kersfees hier sal wees en die feestyd hier in Noord Amerika kom ondervind!

Die bank waarvoor Tony tans werk het ‘n ander bank gekoop en die nuwe maatskappy sal bekend wees as USBancorp en ek terg hom dat hy nou vol sirkel gekom het en werk alweer vir Bankorp (nou ABSA).

Ons wens almal ‘n Geseënde Kersfees en Voorspoedige Nuwejaar toe en soos altyd mis ons julle vreeslik!!!

Al ons liefde,         Lekke,

Annelise en Tony Buttons en Tassie