November/ Desember 2001

Laat Herfs/ Vroeë Winter groetnis vanuit VSA

Liewe Familie & Vriende

Ek probeer my bes om meer as een brief in ‘n jaar te skryf, maar ek sukkel om dit reg te kry. Voor ek my oë kan uitvee is dit alweer Kersfees en tyd om te dink aan Kersfeeskaartjies en dan besef ek my goeie intensies om ‘n brief in die middel van die jaar te skryf is daarmee heen. Ek begin ook al hoe meer besef dat na 6 jaar hier, is ons meer soos normale burgers, en nie meer die ewige toeris nie! Ons is baie bevoorreg dat ons so goed aangepas het en ons is geseën met ‘n doodnormale leefstyl, partymaal ‘n bietjie eentonig – dit beteken ook dat my nuus minder nuuswaardig word (goeie verskoning om nie meer gereeld te skryf nie, nè?).

Tony het van werk verander in September (hoorah) en hy is baie gelukkig en tevrede. Ons is maar verlig om uit die finansiële sektor te wees en nou kan die banke maar tot hartelus saamsmelt en mekaar oorneem! Tony werk nou vir Spectrum Products, ‘n maatskappy in St Louis, wat tuin- en huispes produkte vervaardig.

Ons is nog steeds lief om te reis en ons was by verskeie plekke sedert ek laas geskryf het. In Januarie het ons my Pa na Atlanta se lughawe geneem en sommer by ons vriende in Anderson, South Carolina gekuier. Op pad terug het ons deur Alabama gereis. Ons het ‘n heerlike Kersfees saam met my Pa deurgebring. Hy het vir sneeu gewens en mense het dit gesneeu! Ons het 18 duim sneeu op die grond gehad tot ongeveer die 2de week in Januarie en dit was bitterlik koud. Volgens die weerprofete was dit die koudste Desember in St Louis in ‘n 100 jaar.

Die laaste week in Januarie het ons na Vail in Colorado gereis, vir ‘n ski vakansie. Ons het in ‘n westerlike rigting vanaf Eureka deur Missouri en Kansas gery. Wat ‘n kontras tussen die twee state – Missouri is bedek met natuurlike woude en Kansas is so plat en vaal soos ‘n pannekoek. Die hoofweg deur Kansas is so reguit soos ‘n pyl en ‘n mens kan die horison in al vier rigtings sien. Aan die einde van die 1ste dag se ry kon ons ‘n sneeustorm sien naderkom. Terwyl ons besig was om brandstof integooi en die plaaslike mense ons gewaarsku om so gou as moontlik by ‘n hotel uit tekom want die hoofweë word sommer gesluit in die sneeustorms. Ons het ook net betyds by die hotel gekom toe begin dit sommer hard te sneeu. Die volgende oggend moes ons ‘n voet sneeu van die kar afskraap voordat ons verder kon gaan na Colorado. Ons was ‘n week in Vail en het die ski baie geniet, Buttons het egter elke oomblik gehaat. Dit was baie koud en hy het nie daarvan gehou om in die ysige sneeu neergesit te word vir sy daaglikse ablusies nie.

Aan die einde van Maart was ons darem al baie lus vir Lente en het vir ‘n kort naweek na die "Lake of the Ozarks" gegaan. Dit was nog maar koud maar het darem gehelp om ontslae te raak van die winter "blues". Eindelik het die somer aangekom en ons is na Seaside, Florida op die Meksikaanse Golf kus, vir ‘n week van son en see. Seaside is ‘n klein dorpie wat bekendheid verwerf het deur die film "The Truman Show". Seaside is ‘n pragtige plek en elke kothuis is met verskillende pastel kleure geverf en elkeen is ‘n unieke styl. Ons het ‘n strandhuisie gehuur en so min as moontlik gedoen. Ons het ook ons fietse saamgebring en het daarmee gery waar ons wil wees. Die strand (wit strooisuiker) en die see (smarag groen) is baie mooi en ek het ook nie omgegee om in die kalm water in te gaan nie.

In die middel van Julie het ons probeer om van die hitte te ontsnap en het noord na Minneapolis-St Paul in Minnesota gereis. Dit is waar USBancorp (Tony se ou werk) se hoofkantoor is en Tony het ‘n werksvergadering die Maandag gehad, dus het ons dit in ‘n langnaweek omskep. Dit is ook hier waar die grootste winkelsentrum in Amerika is. So noodeloos om te sê dat ek inkopies gedoen het soos die Engelse sê: "shopped till we dropped" in die "Mall of America". Ons het ook nie die hitte vrygespring nie want daar was ‘n hittegolf in Minnesota.

Van julle weet dat ek ‘n warrelwind besoek na Suid Afrika, aan die einde van Augustus gehad het en ek vra omverskoning aan almal by wie ek nie kon uitkom, in die kort tydjie wat ek daar was, nie. Ek het ‘n heerlike tyd gehad en was oorkom deur die bekende plekke, klanke en reuke (snaaks dat ‘n mens dit sou mis) en ek was bevoorreg om weer ons unieke kultuur en taal te kon ervaar. Ek het die Dinsdag voor die afgryslike terroriste aanval op die VSA, teruggekeer en was maar dankbaar ek hoef nie tydens diè gebeure te reis nie. Op die oomblik kuier ‘n Suid Afrikaanse vriendin, Pietrè Pieterse, by ons en ons was by al daardie wonderlike toeriste plekke wat ek al van vertel het oor die jare. Sy het ook Halloween vir die eerste keer ervaar en die kinders het ons nie teleurgestel nie, ons het spoke, hekse, feëtjies, prinsesse, vampiere en menige meer by die voordeur gehad. Ons het ook na Chicago, Branson en Dallas gereis en sy gaan ook Thanksgiving by ons deurbring.

Die bome was ongelooflik mooi hierdie herfs en ons kon nie ons oë van die bome in al hul herfsprag, weg hou nie. Dit is maar moeilik om te probeer beskryf hoe mooi dit was. Dit was veral besonder om op een van ons menige lanings te ry waar die bome ‘n koepel oor die pad vorm en ‘n mens omring is deur die warm herfskleure.

Ons gaan aan die einde van November vir ons onderhoud om Amerikaanse burgers te word. Daar sal dan daarna ‘n groot seremonie gehou word in die ou hofgebou onder die Boog, in St Louis, waar almal teenwoordig ingesweer sal word. Ons sal gaste kan saam neem en omtrent almal wat ons ken wil daar wees. Ons gaan ook ons Suid Afrikaanse burgerskap behou.

 

Tony se Ma en Tannie kom vir Kersfees en Nuwejaar by ons kuier en ons raak regtig bederf om familie hier te hê vir die tweede jaar in ‘n ry.

Ons wens almal ‘n geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwejaar toe en soos altyd mis ons julle vreeslik en hoop om gou van julle te hoor.

Al ons liefde,         Lekke,

Annelise en Tony Buttons en Tassie